Pastoriemoord: Seun 'spyt' oor moorde
2012-11-20 11:37
Johannesburg – Martin Brits het 'n pleitgebed gedoen ná die moorde op sy pa en sy suster se verloofde in Harrismith, het 'n dominee wat hom in die tronk besoek het, gesê.
Ds. Gert Victor, leraar van die NG Moedergemeente, het die 28-jarige Brits ure voor sy pa, Willem Brits (60), se roudiens besoek.
“Hy het herhaaldelik gesê hy is jammer. Hy het duidelik berou getoon... veral teenoor sy twee broers (Willie en Dawid) en sy suster (Thea).”
Victor sê hy het Brits die geleentheid gegee om ’n gebed te doen.
“Hy het dit nie van die hand gewys nie. Hy het ’n kort en kragtige gebed gedoen. Hy het vir die Here gesê hy is jammer. Hy besef dit was ’n dwase ding om te doen.”
Brits het ook verneem van die welstand van sy ander familielede, insluitend dié van sy ma, Dorothea, wat sedert die aanval twee weke gelede in die waakeenheid in die Bloemfontein Mediclinic is.
Brits en die 41-jarige Elliot Mhlambi, sy medebeskuldigde, het Maandag vlugtig in die Harrismith-landdroshof verskyn in verband met die moorde op Willem en die 25-jarige Gerhard Vermeulen.
Corné Marais, Brits se prokureur, het gesê hy dink die mediablootstelling “vang hom (Brits) omdat hy weet dit raak sy familie”.
Brits het al vroeër ’n bekentenis voor ’n landdros op Fouriesburg afgelê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA