Pastoriemoord: Ma vra hoekom
2013-01-20 08:15
Harrismith – Dorothea Brits (59), die predikantsvrou van Harrismith wat 40 dae gelede wreed met ’n byl aangeval is, is by haar volle bewussyn en wil weet waarom haar seun dit gedoen het, berig Rapport.
Sy het ernstige breinbeserings opgedoen in die aanval en haar man, ds. Willem Brits (60) en aanstaande skoonseun, Gerhard Vermeulen (25), is doodgekap en -geskiet.
“Sy wil weet waarom hy dit gedoen het,” sê ds. Bobby Scherrer, emeritus-predikant van die NG gemeente Kerkenberg en woordvoerder van die familie.
“Ons probeer tans om nie te veel met haar oor die voorval te praat nie, maar wanneer sy vrae daaroor het, word dit reguit beantwoord.
“Dit gee haar die geleentheid om dit in haar eie tyd te verwerk,” sê hy.
Dit is uiters belangrik dat sy nou haar kragte herwin en dat dit geestelik ondersteun word, sê hy.
“Sy het geweldige trauma beleef en ons maak seker dat niks haar onnodig ontstel nie,” sê Scherrer.
Brits word in die rehabilitasiesentrum in die Mediclinic Bloemfontein behandel.
Dit is egter nog nie duidelik of sy in haar seun se verhoor sal getuig nie.
Martin Brits en Elliot Mhlambi (42) is weens die pastorie-aanval en -moorde in hegtenis geneem en verskyn weer op 25 Januarie in die hof.
– Volg Nuus24 op Twitter