Pastoriemoord: Dominee se vrou ontslaan
2012-12-19 07:30
Bloemfontein - Dorothea Brits, die vrou van die vermoorde dominee van
Harrismith, sterk in 'n rehabilitasiesentrum aan nadat sy verlede week
uit 'n hospitaal in Bloemfontein ontslaan is.
'n Hospitaalwoordvoerder, Elizma van Aswegen, sê sy is Vrydag ontslaan en na die Pasteur-hospitaal in die stad oorgeplaas.
Volgens die radiostasie OFM is Dorothea verlede week, kort nadat sy haar bewussyn herwin het van haar man se dood ingelig en dat haar seun, Martin,
verdink word van die moord.
Sy moes ook hoor dat haar aanstaande
skoonseun, Gerhardus Vermeulen, in hul pastoriehuis saam met haar man
vermoor is.
Die drie is na bewering verlede maand deur Martin en 'n medebeskuldigde, Elliot
Mhlambi, in hul huis met 'n byl aangeval.
Vermeulen is doodgeskiet.
Dorothea het erge hoofbeserings opgedoen.
Hul dogter, Thea, wat ook ten tyde van die voorval in die huis was, is ongedeerd.
Volg Nuus24 op Twitter.
– OFM