Pastoriemoord: Dominee se seun in hegtenis
2012-11-10 08:00
Kaapstad – 'n Tweede persoon is Vrydagmiddag weens die moord van 'n dominee van Harrismith en sy aanstaande skoonseun in hegtenis geneem, het OFM Saterdag berig.
Polisiewoordvoerder Mmako Mophiring het bevestig dat die vermoorde Willem Brits (60) se seun ná ondervraging deur die polisie in hegtenis geneem is.
Dié 28-jarige seun was ten tyde van die voorval in die pastoriehuis se badkamer toegesluit met vasgebinde hande en voete.
Die 60-jarige Brits en sy vrou, Dorothea, is Donderdagaand deur gewapende mans in hul huis se sitkamer oorval en met 'n byl aangeval. Willem het Vrydagoggend in 'n plaaslike hospitaal aan sy wonde beswyk, en sy vrou is in 'n kritieke toestand in die Mediclinic Bloemfontein.
Die egpaar se aanstaande skoonseun, Gerhardus Vermeulen (26), is in die voorval doodgeskiet. Hul dogter, Thea (23), is ongedeerd maar erg getraumatiseer, volgens 'n familiewoordvoerder.
Die eerste verdagte is reeds Donderdagaand kort na die voorval langs die N3 aangekeer.
Mophiring sê daar was bloed aan sy klerer en hy het 'n gesteelde .22 rewolwer en selfone van die egpaar by hom gehad.
Die polisie het toe gesê hulle soek na nog twee verdagtes, maar daardie soektog is vir eers vir dié naweek afgelas nadat hulle die seun in hegtenis geneem het.
"Nuwe bewyse het nou na vore gekom. Ons sal sodra hulle in die hof verskyn het weet of ons na nog verdagtes moet soek."
Die twee sal Maandag in die Landdroshof op Harrismith verskyn.
Lees verder.
Volg Nuus24 op Twitter.
– OFM