Pastoor wat vrou glo verkrag, geskors
2013-02-10 08:08
Johannesburg – ‘n Pastoor van Soweto wat in hegtenis geneem is nadat hy glo ‘n vrou in sy kerk verkrag het, is geskors, het die Universal Church of the Kingdom of God Saterdag gesê.
“Ná sy inhegtenisname het die leierskap die man ondervra en hy is summier as pastoor geskors,” het Nametso Mofokeng, ‘n woordvoerder vir die kerk, in ‘n verklaring gesê.
Sy sê die kerk sal die polisie ondersteun in hul ondersoek en is vol vertroue dat geregtigheid sal geskied.
“Die kerk veroordeel enige vorm van huishoudelike geweld en verkragting word onder geen omstandighede verdra nie.
Die pastoor is Vrydagaand in hegtenis geneem nadat die vrou wat hy glo verkrag het hom aangekla het.
Die pastoor het aan die 29-jarige vrou gesê om 'n selfoon, wat hy geleen het, by sy kerk in Zola te gaan haal, het ao. Kay Makhubela gesê.
Hy het haar na bewering verkrag en gedreig om haar te wurg indien sy skree.
Makhubela het gesê die vrou het 'n mediese ondersoek ondergaan en ontvang berading.
Mofokeng het bygevoeg dat die kerk baie ontsteld is oor enige voorvalle van verkragting, maar veral wanneer mense in posisies van leierskap hul situasie misbruik.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA