Pastoor tweede keer vas vir verkragting
2012-01-04 14:32
Johannesburg – ‘n Vyftigjarige pastoor wat op borgtog vrygelaat is in verband met ‘n aanklag van verkragting, is weer in hegtenis geneem vir ‘n ander verkragting, het die polisie in Limpopo Woensdag gesê.
Die pastoor is Dinsdag by sy huis in Seshego in hegtenis geneem nadat hy op R2 000 borgtog vrygelaat is vir die verkragting van ‘n 14-jarige meisie, het brig. Hangwani Mulaudzi gesê.
In die jongste voorval word die pastoor daarvan aangekla dat hy ‘n jong vrou, wat nou 18 jaar oud is, tussen 2009 en 2010 verkrag het.
“Daar word beweer dat die slagoffer na die pastoor gegaan het sodat hy vir haar kon bid, aangesien sy nie lekker gevoel het nie. Die slagoffer is toe na bewering verkrag.”
Die pastoor sal na verwagting Donderdag in die Polokwane-landdroshof verskyn.
Volgens Mulaudzi het dieselfde pastoor Dinsdag in die Seshego-landdroshof verskyn in verband met die verkragting van die 14-jarige.
Hy is op R2 000 borgtog vrygelaat en die saak is tot 17 Januarie uitgestel.
“Daar word beweer dat die verdagte die meisie tussen Augustus en September 2011 in Seshego verkrag het.”
Die polisie het ook gesê ‘n derde saak van verkragting is Woensdag teen die pastoor gebring, waar ‘n 20-jarige vrou beweer dat hy haar tussen Julie en Oktober verlede jaar verkrag het.
“Ons is besig om ondersoek in te stel... ons fokus vir nou op die drie sake. As daar mense is wat moontlik slagoffers was moet hulle dit by die polisie gaan aangee.”
In al drie die voorvalle het die vroue na die pastoor gegaan vir gebed en genesing.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA