Pastoor: “Jesus was MIV-positief”
2010-09-03 13:48
Kaapstad – ‘n Kerkman in Kaapstad het christene in sy gemeenskap woedend nadat hy gepreek het dat Jesus MIV-positief was, het die Mail & Guardian Vrydag berig.
Pastoor Xola Skosana, van die charismatiese Way of Life-kerk, wou die stigma rondom MIV/Vigs aanspreek en het daarom besluit om die titel van sy diens “Jesus was MIV-positief” te maak.
Skosana het in die Khayelitsha-informele nedersetting gepreek dat Jesus teenwoordig is in elke persoon hetsy hulle siek of gesond is.
“In baie dele van die Bybel sit Jesus hom in die posisie van die siek mense,” het die 43-jarige pastoor gesê.
“As ons omgee vir die mense wat siek is, gee ons om vir Hom. Wanneer ons siek mense ignoreer, ignoreer ons hom,” het hy gesê.
Sy opmerkings het ‘n hewige reaksie onder baie Christene in die informele nedersetting ontlok omdat Jesus uitgebeeld word as seksueel-promisku.
Volgens Skosana is hy verstom deur die bom wat gebars het rondom sy preek.
“Dit verstom my dat hierdie tema nooit in die kerk aangespreek word nie,” het hy aan die Mail & Guardian gesê.
Hy het twee susters weens Vigs verloor en het lede van sy gemeenskap aangemoedig om hul MIV-status bekend te maak.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigsraad het Skosana se standpunt ondersteun.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA