Passasiers gestrand ná 1time vou
2012-11-02 17:11
Kaapstad – Honderde passasiers is Vrydag gestrand gelaat toe die lugredery 1time sonder waarskuwing al sy vlugte gekanselleer het weens bankrotskap.
'n Verteenwoordiger van 1time het aan Fin24 bevestig dat die lugredery se finale vlug om 15:00 Vrydag was, en dat geen meer vlugte geskeduleer is nie.
Die besluit is geneem ná die laekoste-lugredery in die hof gelikwideer is ná 'n finale vergadering met aandeelhouers Vrydagmiddag.
Die likwidering is kort voor 15:00 amptelik gemaak.
"Net na drie het ons almal nog in rye gestaan toe daar aan ons gesê is daar sal nie meer enige vlugte wees nie," het een passasier by die Kaapstad- internasionale lughawe aan Fin24 gesê.
"Dis so hartseer. Al die personeel het ook hulle werk verloor," het die passasier gesê, wat nie sy identiteit bekend wou maak nie.
Dis tans nie duidelik wat die lot van die personeel is nie, of wat kaartjiehouers te doen staan nie, omdat 1time se webwerf ook buite werking is.
Dis ook nie duidelik wat die uitwerking sal wees op die Zimbabwiese laekoste-lugredery Fresh Air nie, wat ingevolge 'n samewerkingsooreenkoms met 1time Vrydag sy eerste vlug van OR Tambo na die Victoria Falls-lughawe sou onderneem.
Volgens die ooreenkoms sou Fresh Air 1time se vliegtuie op dié roete gebruik.
1time ondervind al 'n paar maande finansiële probleme, en skuld verskeie instansies, waaronder die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika, ongeveer R350 miljoen.
– Fin24.
– Volg Nuus24 op Twitter.