Pasiënte glo aangerand, verkrag by hospitaal
2011-11-24 16:15
Oos-Kaap – Pasiënte by 'n psigiatriese hospitaal in Fort Beaufort in die Oos-Kaap beweer hulle is deur personeel aangerand en verkrag, het die provinsiale departement van gesondheid Donderdag gesê.
"Ons het 'n span na die Tower-psigiatriese hospitaal gestuur om die ernstige bewerings te ondersoek," het Sizwe Kupelo, woordvoerder, gesê.
Hy het gesê twee pasiënte beweer hulle is Woensdag deur verpleegsters aangerand.
Die departement het ook klagtes van twee ander pasiënte ontvang. Hulle beweer hulle is verlede maand deur verpleegsters wat by die hospitaal werk, verkrag.
Kupelo het gesê die bewerings word as ernstig beskou en die departement sal die nodige aksie neem teen diegene wat skuldig bevind word.
Die polisie ondersoek ook die saak.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA