Pasiënt glo in stort verkrag
2011-12-29 07:31
Durban – ’n Verpleër van ’n hospitaal in Verulam noord van dié hawe stad is gister in hegtenis geneem nadat hy ’n geestesongestelde pasiënt na bewering verkrag het terwyl sy gestort het.
Die 38-jarige pasiënt is Kersdag omstreeks 23:00 in die stort in die Osindisweni-hospitaal oorval, het kapt. Thulani Zwane, polisiewoordvoerder, gesê.
Die voorval is die volgende oggend by die polisie aangemeld.
Die polisie het gesê lede van Verulam se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe het die verdagte gister by sy huis in hegtenis geneem.
Chris Maxon, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse gesondheidsdepartement, het sy skok oor die voorval uitgespreek.
“Pasiënte kom na ’n hospitaal met die verwagting dat hulle versorg gaan word en nie dat ’n gesondheidsorgwerker hulle sal verkrag nie. Ons werk met die polisie saam om die saak op te los,” het hy aan Sapa gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld