Parys-plaasmoord: Man, vrou in hof
2013-01-18 08:09
Johannesburg – Twee verdagtes wat daarvan aangekla word dat hulle ‘n bejaarde egpaar op ‘n plaas buite Parys in die Vrystaat vermoor het, verskyn binnekort in die dorp se landdroshof.
Paul Ramaloko, ‘n woordvoerder vir die Valke, sê die 46-jarige vrou en 30-jarige man sal tereg staan op aanklagte van moord en roof. Hulle is op ‘n nabygeleë plaas met gesteelde items van Ernst en Annetjie van Rooyen betrap.
Die oorledenes, wat albei in hul 70’s was, se lyke is vroeër die week in 'n snoepwinkel, wat hulle uit hul motorhuis bedryf het, gevind.
Die vrou se lyk is in ‘n kisvrieskas gevind, terwyl haar man se lyk op die vloer van die winkel gekry is.
Thandi Mbambo, ‘n polisiewoordvoerder, het gesê die egpaar se huishulp het op die gru-toneel afgekom.
Dié moord kom enkele dae nadat ‘n bejaarde egpaar van Belfast, Mpumalanga, ook vermoor en in ‘n vrieskas gedruk is.
Twee verdagtes is reeds in verband met dié gru-moord op Rudolph van Heerden en sy vrou, Elma, vasgetrek.
Die egpaar, wat albei 79 jaar oud was, is met 'n stomp voorwerp oor die kop geslaan. Hul hande en voete is ook met kabels vasgebind.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA