Parys-plaasmoord: Verdagte vas
2013-01-16 12:27
Johannesburg – ‘n Verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n bejaarde egpaar op ‘n plaas buite Parys, Vrystaat.
RSG berig die polisie sê die verdagte is op 'n naburige plaas vasgetrek nadat hy na bewering Ernst van Rooyen en sy vrou, Annetjie, vermoor het. Hulle was albei in hul 70's.
OFM het vroeër berig die egpaar se lyke is in 'n snoepwinkel, wat hulle uit hul motorhuis bedryf het, gevind.
Die vrou se lyk is glo in ‘n kisvrieskas gevind, terwyl die man se lyk op die vloer van die snoepwinkel gekry is.
Thandi Mbambo, ‘n polisiewoordvoerder, sê die egpaar se huishulp het op die gru-toneel afgekom.
Dié moord kom enkele dae nadat ‘n bejaarde egpaar van Belfast, Mpumalanga, ook vermoor en in ‘n vrieskas gedruk is.
Die nuusagentskap Sapa berig twee verdagtes is reeds in verband met dié gru-moord op Rudolph van Heerden en sy vrou, Elma, vasgetrek.
Die egpaar, wat albei 79 jaar oud was, is met 'n stomp voorwerp oor die kop geslaan. Hul hande en voete is ook met kabels vasgebind.
Volg Nuus24 op Twitter