Partytjie eindig tragies; 4 sterf
2011-12-01 08:00
Bloemfontein – ‘n Verjaardagpartytjie het tragies geëindig toe vier jong mense in ’n grusame motorongeluk dood is.
Nog drie is in ’n kritieke toestand in die hospitaal.
Die ongeluk het Woensdagoggend omstreeks 03:00 op die N8-hoofweg by Bloemfontein gebeur toe die bestuurder van die wit VW Citi Golf beheer oor die motor verloor en teen ’n boom op die middelman vasgejaag het.
Leon Britz (19), Garthray Oelofse (22), Corné Lombard (21) en Danielle Bouillon (15) het in die ongeluk omgekom.
Die ander drie, Isak (Sakkie) Lombard (16), Jean Ras (16) en Danie Steyl (16) is in ’n kritieke toestand na die Pelonomi-hospitaal gebring.
Dit was Danie se 16de verjaardag. Hulle het dit vroeër die aand by die Spur in Mimosa Mall gevier.
Marlene Bouillon, Danielle se ma, sê haar dogter was 22:00 by die huis.
“Ek én my man het haar gebel en toe was sy by die huis. Ettienne (Swanepoel, haar oppasser) sê sy het haar selfoon en sak in die kar vergeet. Sy het dit gaan haal, maar nooit weer teruggekom nie.”
Danielle se pa, Danie, sê hy weet nie wat sy dogter wéér in die motor laat klim het nie.
Die Bouillons wou hul dogter as vermis aanmeld toe hulle by die huis kom en sy nie daar is nie.
Hulle het by die Navalsig-polisiekantoor gehoor van die ongeluk.
Volgens Leon Britz sr., Leon se pa, het hy agtergekom sy seun is nie by die huis nie toe hy by sy kamer ingeloer het.
“Ek het vir Sakkie ’n SMS gestuur om my dadelik te bel en twee minute later bel die hospitaal my en sê my seun is in ’n ongeluk.
“Dit is baie sleg. Ek is stukkend.”
Garthrey se pa, Garth, sê hy is al moeg gehuil.
“Jy verwag nie so iets nie. Die kinders was nog so jonk.”
Volgens André Visser, woordvoerder van ER24, was dit moeilik om die beseerdes in die klein motor te behandel.
’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad