Partye verwelkom kabinetskuiwe
2011-10-24 19:49
Pretoria – Politieke partye het President Jacob Zuma se besluit om die kabinetlede Gwen Mahlangu-Nkabinde en Sicelo Shiceka te vervang, verwelkom.
Helen Zille, leier van die DA, het ook Zuma se aankondiging dat Bheki Cele, nasionale polisiekommissaris, geskors is, geprys.
“Hierdie aankondiging kom eerder laat as nooit,” het sy in ‘n verklaring gesê.
Vroeër is in Pretoria aangekondig dat Mahlangu-Nkabinde as Minister van Openbare Werke en Shiceka as Minister van Tradisionele Sake en Samewerkende Regering vervang sal word.
Zuma se regering is nou al maande lank in omstredenheid gedompel.
Thuli Madonsela, Openbare Beskermer, het Zuma reeds gevra om streng op te tree teen dié wat betrokke was by die omstrede polisie-huurkontrakte, asook Shiceka vir sy misbruik van openbare fondse.
“Ons prys die president daarvoor dat hy sy regering se toewyding tot die rol van die openbare beskermer onderstreep het,” het Zille gesê.
Die ANC het gesê die kabinetskommeling sal beduidend bydra tot die versterking van regeringsprestasie en –kapasiteit.
“In hierdie opsig wil die ANC die President se optrede en beslistheid prys en ook onderskryf,” het Jackson Mthembu, woordvoerder, in ‘n verklaring gesê.
Die ANC het ook Zuma se aankondiging dat Regter Willie Seriti, van die Appèlhof, die hoof sal wees van die nuwe kommissie van ondersoek na die wapenskandaal, verwelkom.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA