Partye verheug oor uitslae
2012-01-05 07:31
Kaapstad – Verskeie opposisiepartye het gister die matriekslaagsyfer verwelkom.
Die DA het by monde van dr. Wilmot James, LP, gesê dit is die eerste keer sedert 2004 dat die 70%-slaagsyfer oorgesteek is.
Die matriekslaagsyfer vir 2011 is 70,2% – aansienlik hoër as die 67,8 % in 2010.
“Die slaagsyfer is hoog omdat dit ’n spanpoging was. Sukses hang af van goeie voorbereiding en deursettingsvermoë.”
James was egter gou om te maan dat daar steeds baie werk voorlê om die slaagsyfer vol te hou.
Volgens hom sal meer leerders van gr. 1 tot gr. 12 in die stelsel gehou moet word omdat slegs 40,7% van leerders wat in 1999 in gr.1 was die matriekeksamen vanjaar afgelê het.
James het gesê daar sal ook seker gemaak moet word meer matrieks wat slaag kom in aanmerking vir universiteitstoelating en toelating tot ander hoër onderwysinstellings.
“Die aantal leerders met onderskeidings, veral in wiskunde en wetenskap, moet ook vermeerder word.
“Om op lang termyn suksesvol te wees, sal onderwysers besondere aandag aan die gehalte van onderrig moet gee. Slegs dan kan ons werklik feesvier,” het hy bygevoeg.
Ook die ACDP, by monde van Cheryllyn Dudley, ACDP-LP, het die matrieks gelukgewens.
Dudley het gesê die fokus op onderwysers en nasieners moet volgehou word.
“Umalusi (die liggaam vir gehaltebeheer) het ook sy geloofwaardigheid bewys en dit is belangrik sodat mense met reg trots kan wees op die matriekuitslae.”
In KwaZulu-Natal was die IVP egter op die oorlogspad en het Lindani Mncwango, IVP-LPP, die provinsiale minister gevra om ’n ondersoek na die swak prestasie te begin.
KwaZulu-Natal se slaagsyfer het sedert 2010 met 2,4% afgeneem.
Die IVF-jeugbrigade het ook die nasionale uitslae verwelkom, maar egter vraagtekens geplaas oor die gehalte van die nasionale senior sertifikaat, het Sapa berig.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger