Partye eis ondersoek ná dood van babas
2011-02-24 08:55
Douglas - Terwyl die Noord-Kaapse departement van gesondheid steeds oor die oorsaak van die dood van twee doodgebore babas swyg, dring Cope en die DA aan op ’n dringende ondersoek na die voorvalle.
Dié politieke reaksie kom ná Volksblad se berig Donderdag oor die dood van die babas van twee skoonsusters, Elsabé Visser (22) van Breipaal en Sarah Bezuidenhout (20) van Hopetown.
Hulle beweer verpleegpersoneel van die Hester Malan-hospitaal hier het nalatig opgetree.
Leon van Wyk, voorsitter van Breipaal se Cope-tak, het Woensdag aan Volksblad gesê dit is nie die eerste keer dat ongerymdhede by dié hospitaal opduik nie.
“Dit dui op nalatigheid van die departement. Die toerusting is nie in werking nie en ons vermoed die verpleegpersoneel kry nie ses maande opleiding by die hospitaal nie.
“As ’n baba met aankoms by die hospitaal nog lewe en dan dood gebore word, is die dokters en die verpleegsters verantwoordelik.”
Hy het gesê Cope sal seker maak die openbare vervolger ondersoek die saak as die familie nie die nodige bystand kry nie.
Karen de Kock, Noord-Kaapse DA-woordvoerder vir gesondheid, het gesê die DA is baie hartseer oor die dood van die twee babas.
“Ons sal inligting rondom die voorvalle by die departement van gesondheid aanvra. As nalatigheid, ’n gebrek aan hulpmiddels of enige ander voorkombare faktor die oorsaak van die dood van die babas is, moet die departement optree.”
Sy het gesê om baba-sterftes te voorkom is deel van die Millennium-ontwikkelingsdoelwitte.
Die babas is onderskeidelik in Oktober en November verlede jaar gebore. Visser beweer ook haar babadogtertjie het beserings aan haar gesig opgedoen nadat sy met geboorte met ’n tang uitgetrek is.
Lulu Ntsie, woordvoerder vir die departement van gesondheid in die Noord-Kaap, het Dinsdag gesê die departement sou Woensdag kommentaar lewer.
Sy het by navraag Woensdag gesê sy kan steeds nie kommentaar lewer nie.
- Volksblad