Parool geweier vir Clive Derby-Lewis
2011-12-16 09:00
Pretoria – Clive Derby-Lewis (74), wat lewenslange tronkstraf uitdien weens die moord op die ANC-leier Chris Hani, se paroolaansoek is geweier.
Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van korrektiewe dienste (DKD), het Donderdag op die opening van die nuwe galgkamer-museum in Pretoria gesê sy het die aansoek geweier en hy gaan nie volgende jaar op parool vrygelaat word nie.
“Ek voer gesprekke met die openbare beskermer, maar hy het nog nie om mediese parool aansoek gedoen nie,” het Mapisa-Nqakula gesê.
Oor die gerugte dat die Vlakplaas-bevelvoerder, Eugene de Kock, op parool vrygelaat gaan word, het Mapisa-Nqakula gesê “dit gaan nie oor sy vrylating nie, maar eerder of hy kwytskelding kan kry”.
Sy het gesê Derby-Lewis het twee jaar gelede in ’n paroolaansoek gesê as hy uit die tronk kom, gaan hy eers rus en daarna sal hy alles onthul oor die moord op Chris Hani, voormalige SAKP-leier.
“Hoekom nie nou nie,” het sy gevra.
Adv. George Bizos, veteraanstryder vir menseregte en oudpres. Nelson Mandela se voormalige regsverteenwoordiger, het in sy toespraak gesê die groot vraag is of mense soos De Kock en Derby-Lewis gerehabiliteer is.
“Laat ons hulle leer om respek te hê vir ons demokrasie voordat hulle vrygelaat word,” het Bizos gesê.
Pres. Jacob Zuma, wat dié museum by die Pretoria-sentraal-gevangenis amptelik geopen het, het ná ’n toer van die galgkamer en die gebou gesê hy is baie emosioneel, want “daai name op die muur was mense wat ek geken het”.
Tussen 1921 en 1989 is meer as 4000 moordenaars, verkragters en politieke gevangenes tereggestel.
Die galgkamer en die gebou is in 1996 gerestoureer en Mapisa-Nqakula het vroeër vanjaar besluit om dit as ’n museum vir die publiek te open.
“Die reg op lewe en integriteit is die belangrikste mensereg in ons land,” het Zuma gesê.
“Die Suid-Afrikaanse regering het nie nodig om mense dood te maak om te wys dit is verkeerd om mense te vermoor of ernstige misdade te pleeg nie.
“Alle Suid-Afrikaners het swaar gekry vir ons vryheid. Daar was lewensverlies en baie families het deur onbeskryflike pyn en lyding gegaan.
“Daarom het ons die museum oopgemaak as ’n plek van genesing. Ons maak dit oop sodat die toekomstige generasies kan leer wat verkeerd kan gaan as ons ons gemeenskaplike menslikheid verloor.
“Inderdaad was ons vryheid nie verniet nie. Dit het teen ’n groot prys en baie pyn gekom.
“Die museum moet ’n simbool wees, nie van die verlede nie, maar die hoop wat ons vir die toekoms het,” het Zuma gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld