Parlementslede suur oor spietkops ‘wat net eet, slaap’
2010-05-12 08:38
Lizel Steenkamp, Beeld
Kaapstad – Parlementslede het Dinsdag vuur gemaak onder die hoofde van die land se vyf metropolisiedepartemente oor beamptes wat salarisse kry vir niksdoen.
“Hulle sit heeldag in hul motors en klets of hulle eet en slaap. Hulle kýk nie eens vir die motoriste nie. Dis niks anders as leeglê nie én dan kry hulle nog ’n salaris ook,” het Sindi Chikunga, ANC-LP en voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, gesê.
Byna elke komiteelid het verwys na voorvalle waarvan hulle weet.
“Ek sien soms 15 metropolisiemotors op een plek (in Johannesburg) geparkeer, maar nie ’n enkele beampte reguleer die verkeer nie,” het Greg Schneeman, ANC-LP, gekla.
Chris Ngcobo, hoof van die metropolisie in Johannesburg, het toegegee ’n gebrek aan dissipline is ’n groot uitdaging. “Van hulle het nie begrip vir die waardes en norme daarvan om ’n uniform te dra nie.”
Hlula Msimang, Ngcobo se ampsgenoot in Ekurhuleni, het gesê hy is besig om ’n etiese kode op te stel wat beamptes se optrede moet rig.
Tot 149 sake wat verband hou met korrupsie, omkopery, die misbruik van staatsvoertuie en roekelose of nalatige bestuur word teen beamptes in sy departement ondersoek.
Msimang het gesê beamptes word selde skuldig bevind – net sowat een uit elke tien – onder meer omdat dit moeilik is om te bewys dat ’n beampte omkoopgeld aanvaar het. “Die publiek kla, maar hulle verdwyn sodra hulle moet getuig.”
Volgens die polisie se statistieke het die metropolisiedepartemente in Tshwane, Johannesburg, Durban, Ekurhuleni en Kaapstad die afgelope tien jaar gesamentlik tot 1 337 wapens verloor.
Ngcobo het gesê die padverkeersreëls moet gewysig word om buitelanders te dwing om afkoopboetes by die naaste polisiekantoor te betaal.
Hy het agterna aan Beeld gesê daar is minstens 50 000 Zimbabwiese voertuie in Johannesburg en dat die meeste busse wat besoekers na Suid-Afrika bring, onpadwaardig is.
“Ons reik boetes aan hulle uit, maar hulle betaal dit nooit nie. En ons kan hulle nooit opspoor nie.”