Parlement moet hoor oor DG se afdanking – DA
2010-07-28 17:46
Kaapstad. – Genl. Siphiwe Nyanda, minister van kommunikasie, moet voor die parlement verskyn om die afdanking van sy direkteur-generaal te verduidelik.
Só het Ian Davidson, DA-hoofsweep, gesê. Hy meen Nyanda moet sy optrede aan die portefeuljekomitee oor kommunikasie regverdig.
Nyanda het geruime tyd koppe gestamp met me. Mamodupi Mohlala omdat sy glo geweier het om die toekenning van tenders aan maatskappye, waarmee hy noue bande het, goed te keur. Hy het haar Vrydag afgedank.
Nyanda, wat aanvoer dat ’n vertrouensbreuk tussen hom en Mohlala ontstaan het, het aangekondig dat haar kontrak onmiddellik opgeskort is.
Davidson het gesê: “Dit is uiters kommerwekkend dat die minister op sy eie...opgetree het, terwyl daar bewerings is dat hy probeer het om die magte om tenders toe te ken, gesentraliseer het.
“Die minister het aan die einde van ’n reeks teenstrydige verklarings eufemisties gesê daar was ’n breuk in die verhouding tussen hom en die DG. Dit is ’n merkwaardige ommeswaai van wat die minister op 15 Julie aan die publiek gesê het.”
Zizi Kodwa, pres. Jacob Zuma se woordvoerder, wou nie kommentaar lewer nie omdat Zuma in die buiteland is. Nyanda se kantoor wou ook nie kommentaar lewer nie.
- Die Burger