Parlement maak gereed vir opening
2012-02-09 18:03
Kaapstad – President Jacob Zuma sal moontlik soos ‘n koning voel wat huis toe keer wanneer hy al die voorbereidings op die parlementsopening en sy staatsrede Donderdag sien.
Lang, rooi tapyte wag op hom en die vele gaste in die boomryke Parlementstraat, met nie ‘n blaartjie wat uit plek is nie. Hy sal hierlangs stap na die Nasionale Vergadering-vleuel, waar hy sy toespraak sal lewer.
Tuiniers het hard gewerk in die week om onder meer die heinings te snoei.
Teen die middaguur het verskeie werkers lafenis in die koelte gevind. Onder hulle was vier blommerangskikkers, wat tot 70 rangskikkings in die gebou opgerig het.
“Ons is van vroeg af al hier om gereed te maak, maar het gelukkig al die meeste van die werk gedoen. Ons rangskikkings sluit Protea-blomme en rose in,” het Sophia Felix gesê.
Haar kollega Maria Mehl het gesê: “Zuma, as jy luister, die petrolprys en lewenskostes moet afkom.”
Kay Burns wou weer hê die president moet die toestand van staatshospitale verbeter.
Elke ingang na die Parlementêre gebied word gemonitor.
Altesaam 318 skoolleerlinge is genooi om deel te wees van die junior erewag. Hulle kom van sekondêre skole in Athlone, Khayelitsha, Gugulethu en Kuilsrivier. Die res kom van elk van die nege provinsies af.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA