Pap wiel kniehalter glo standbeeld-diewe
2011-01-25 23:00
Johannesburg – Twee mans is Dinsdag in hegtenis geneem nadat hulle glo ‘n lewensgrootte standbeeld van die vryheidsvegter, Nokuthula Simelane, in Bethal gesteel het.
“Die twee, onderskeidelik 18 en 25 jaar oud, is omstreeks 02:00 Dinsdagoggend vasgetrek nadat die standbeeld op hulle bakkie gevind is,” het kapt. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, gesê.
“Hulle het ‘n tou om die nek van die standbeeld vasgemaak en dit met die bakkie weggesleep.”
Na bewering het die verdagtes die stukke van die gebreekte standbeeld agter op hul bakkie gelaai en weggejaag.
Die verdagtes is egter later vasgetrek nadat hul moes stop om ‘n pap wiel om te ruil.
Beide mans is in hegtenis geneem.
Hulle sal binnekort in die hof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA