Pallo Jordan, skrywers steun mediavryheid
2010-08-22 06:46
Dr. Pallo Jordan, een van die ANC se voorste denkers en Suid-Afrika se aangewese ambassadeur by die VN, het sy stem laat hoor vir die vrye vloei van inligting.
Die vrye vloei van inligting word tans bedreig deur verskeie wetsontwerpe (veral die een op die beskerming van inligting) en deur ’n mediatribunaal.
In sy bydrae tot die ANC se internet-nuusbrief ANC Today wys Jordan op die noue verband tussen die stryd om mediavryheid en maatskaplike geregtigheid in Suid-Afrika, veral met verwysing na die rol van groot geeste soos John Fairbairn, John Tengo Jabavu en Tiyo Soga.
Hy gee toe dat die media foute maak en gebruik die voorbeeld van Donald Woods se aanvanklike beriggewing oor Steve Biko en die apartheidsmedia se verontmenslikende hantering van swart mense deur byvoorbeeld nie na hulle as meneer of mevrou te verwys nie.
Die kern van sy beskouing is: “Ek kan my nie ’n ANC-regering voorstel wat bang is vir kritiek nie. Die ANC sal nie verwelk weens kritiek of nabye ondersoek nie.
“Robuuste debat kan ons demokrasie net verdiep, maar debat is tweerigtingverkeer wat bydra tot die gesondheid van demokrasie deur die aandag te vestig op daardie dade van ons wat nie voldoen aan mense se verwagtinge nie.”
Jordan se sterk uitsprake kom in ’n week dat teenstand teen die onderdrukking van inligtingsvloei sterk toegeneem het:
- Zwelinzima Vavi van Cosatu het hom in die Ruth First-gedenklesing sterk teen die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting uitgelaat. Sy standpunt het ’n woedende teenreaksie van die SAKP se dr. Blade Nzimande ontlok;
- Van die land se voorste sakelui het die standpunt onderskryf dat beperkinge op die media en vryheid van spraak nie tuishoort in ’n demokrasie nie;
- Van die land se voorste skrywers, onder wie Nadine Gordimer, Braam de Vries, André Brink, Fred Khumalo en Justice Malala het hulle teen sensuur verbind;
- Die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Donald Gips, het dit nodig gevind om mediavryheid in die openbaar te verdedig op ’n manier wat vermanend aan die Zuma-regering oorgekom het;
- Internasionale media-organisasies en invloedryke koerante, waarvan die Londense The Times die nuutste is, verwoord die groeiende internasionale kritiek op die regering se onderdrukkende planne;
- Die Suid-Afrikaanse kabinet het die afgelope week versoenende geluide gemaak, spesifiek oor veranderings aan die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting, hoewel terugtrekking nie genoem is nie;
- Planne vir ’n ontmoeting tussen die kabinet en koerantredakteurs is op dreef;
- Suid-Afrikaanse politieke opposisiepartye blyk verenig te wees in hul strewe om onderdrukkende wetgewing vir grondwetlike hersiening te verwys;
- Rapport is bewus van ander Suid-Afrikaanse ambassadeurs, benewens Jordan, wat dit oorweeg om openbare standpunt in te neem vir mediavryheid;
- Akademici, met die Universiteit van die Witwatersrand blykbaar voor in die koor, beplan om eersdaags formeel beswaar aan te teken teen die implikasies van die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting op akademiese navorsing.
Aan die ander kant het die ANC, ANC-jeugliga en die SAKP nog nie aangedui dat hulle hul standpunte oor mediavryheid hersien nie en die kwessie is steeds op die agenda van die ANC se nasionale algemene raad volgende maand in Durban.
- Rapport