Padwoede: Man skuldig aan manslag
2012-02-10 09:02
Johannesburg – Sedert sy broer se dood bel sy ma hom drie keer per dag om seker te maak hy makeer niks.
So het die broer van ’n man wat in ’n padwoedevoorval doodgeskiet is Donderdag in die streekhof in Randburg getuig.
Stephen Balanco het op uitnodiging van landdros George Andrews in die vonnisverrigtinge van Roy Wilson (67) getuig.
Wilson, ’n diamantslyper van Blairgowrie in Randburg, is Donderdag skuldig bevind aan strafbare manslag nadat hy Migel Balanco (36) op 22 Maart 2009 doodgeskiet het.
Migel het dié aand Wilson se motor verbygesteek en in die proses glo sy motor gekrap en die kantspieëltjie gebuig. Wilson het hom agtervolg en hulle het in ’n straat in Linden in ’n rusie betrokke geraak.
Volgens vroeëre getuienis het Migel Wilson glo in die gesig geslaan en Wilson het geval. Uit vrees het Wilson met sy vuurwapen na Migel se bene gemik en geskiet.
Wilson het skuld ontken op ’n aanklag van moord, maar later erken hy het hom “skuldig gemaak aan strafbare manslag”. Hy het erken sy gedrag was onredelik en het die grense van selfverdediging oorskry.
Hiermee stem hy saam, het Andrews Donderdag gesê.
“Daar is geen getuienis dat die beskuldigde die oorledene opsetlik wou doodmaak nie,” het hy gesê.
“Die beskuldigde het oorreageer deur die oorledene te skiet. Hy kon ’n waarskuwingskoot gevuur het of die oorledene gewaarsku het dat hy ’n vuurwapen het. Selfs al het hy na die bene gemik, moes hy voorsien het die skoot kon die man op ’n kwesbaarder plek op sy lyf tref.”
Stephen het aan die hof gesê sy familie, en veral sy ma, sukkel om die verlies te verwerk.
“Hy was ’n goeie ou, ’n ordentlike ou, wat gespook het om my ma geldelik te help en sy dogter te onderhou. Sy verlies het ’n groot leemte in ons familie gelaat. Geen vonnis of straf kan my broer terugbring nie, maar onthou asseblief dat ons gevonnis is om lewenslank daarmee saam te leef.”
Wilson het daarna in ’n verklaring wat deur adv. Piet Pistorius, sy regsverteenwoordiger, voorgelees is, Stephen en sy familie om verskoning gevra. Dit het verder gelui: “Ek wens ek kon die horlosie terugdraai, maar ek kan nie. Ek hoop jy en jou familie sal my vergewe.”
Die vonnisverrigtinge duur volgende maand voort.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld