Padvragvereniging hof toe oor staking
2012-10-05 14:25
Johannesburg – Die Padvragvereniging sal Vrydag begin met argumente vir 'n interdik om die voortslepende staking deur vragmotors tot stilstand te bring.
Die saak sal na verwagting in die arbeidshof in Johannesburg aangehoor word.
"Die saak sal na verwagting vanaf 10:00 aangehoor word," het Magretia Brown-Engelbrecht, woordvoerder van die Padvragvereniging, gesê.
Die Padvragvereniging wil die staking beëindig weens geweld en sommige afleweringsvoertuie wat aangeval en aan die brand gesteek is.
Die South African Transport and Allied Workers’ Union (Satawu), wat die grootste vakbond in die sektor is, het gesê sy prokureurs is gereed om die interdik teen te staan.
Die vakbonde het Donderdag 'n derde aanbod van die hand gewys.
Vragmotorbestuurders eis 'n jaarlikse salarisverhoging van 12%, terwyl werkgewers 'n verhoging van 8,5% aangebied het vir volgende jaar en 0,5% vir die jaar daarna.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA