Padsterftesyfers glo verkeerd
2010-01-04 12:39
Johannesburg – Die padsterftesyfers vir Desember 2009 is glo heeltemal verkeerd en is dalk baie meer as in 2008, beweer ‘n kundige.
Volgens Rob Handfield-Jones, die besturende direkteur van driving.co.za, is die departement van verkeer se bewerings nie korrek nie.
Die departement het verlede week bekendgemaak dat sowat 1050 mense sedert 1 Desember tot 31 Desember 2009 op die paaie gesterf het.
“Tydens dieselfde tydperk in 2008 het sowat 1348 mense op die land se paaie gesterf,” is in ‘n persverklaring gesê.
Maar volgens Handfield-Jones het daar slegs 908 mense in 2008 op die paaie gesterf. “Daar was minder sterftes in 2008 as in 2009. Dus het die padsterftesyfer die afgelope feesseisoen met sowat 16% gestyg.
“Spoedbeheer gaan nie die probleem oplos nie. Suid-Afrika benodig ‘n nuwe stelsel waarvolgens lisensies uitgereik word. Die huidige stelsel werk nie en het tot gevolg dat swak bestuurders op die paaie rondry,” het Handfield-Jones gesê.
Logan Maistry, woordvoerder vir die departement van vervoer, is egter steeds van mening dat die padsterftesyfers beslis afgeneem het in vergelyking met die vorige jaar.
“Die syfers wat bekendgemaak is, is nog nie finaal nie. Die minister van vervoer, Sbu Ndebele, sal dit eers later hierdie maand uitreik,” het Maistry gesê.
Volgens hom het die regering geen rede om die syfers te dokter nie. “Ons doel is om lewens te red.”
–Sapa