Padsterftes: Spoed, drank eis honderde
2011-12-26 13:40
Johannesburg – Spoed en dronkbestuur het 'n groot rol gespeel in die meer as 800 sterftes tot dusver op Suid-Afrikaanse paaie hierdie feesseisoen, het die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) Maandag gesê.
"Spoed wat te hoog is vir toestande op die pad, veral in die nag en in slegte weer, is steeds 'n groot bydraende faktor. So ook dronkbestuur, voetgangers wat gedrink het, en verbysteek op sperstrepe in aankomende verkeer," het Ashref Ismail, 'n woordvoerder, gesê.
'n Bietjie meer as 800 mense het volgens die RTMC sedert 1 Desember op Suid-Afrikaanse paaie gesterf. Altesaam 1 149 mense het in dieselfde tydperk in 2010 gesterf, en 1 304 sterftes is in dieselfde periode in 2009 gerapporteer.
Ismail het gesê dis nie moontlik om te voorspel of vanjaar se sterftes meer as verlede jaar sal wees nie.
"Dit sal te vroeg wees om sulke vergelykings te maak maar ons bly hoop dat ons nie weer hierdie jaar soveel sterftes sal hê nie. Daar is tot dusver 'n klein vermindering en ons hoop om daarop voort te bou."
Die RTMC verwag Dinsdag swaar verkeer op die N3 noord na Johannesburg en die N1 suid van Polokwane na Pretoria, met talle vakansiegangers wat terugkeer huis toe.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA