Pad gesluit ná brug meegee
2011-01-26 14:37
Bloemfontein – Die R26 tussen Bethlehem en Ficksburg is in albei rigtings gesluit nadat 'n brug meegegee het.
Motoriste is aanbeveel om die N5 oor Senekal as alternatiewe roete te gebruik.
Op Bethlehem is inwoners van die woonbuurte La Provance, Jordania, Bakenpark en Panorama van die middedorp afgesny.
Berigte is ook ontvang van verskeie plaasdamme wat gebreek het.
Vroeër is berig dat die Jordaanrivier sy walle oorstroom het. Vier brûe oor die rivier was onder water en inwoners langs die rivier moes hul huise verlaat.
Strate op die dorp is onder water en talle is gesluit. Berigte van uitgebreide vloede is ook van Petrusburg in die Suid-Vrystaat ontvang.
– RSG
Volg Nuus24 op Twitter