Paartjie vas wat hul as polisie voordoen
2011-07-14 20:04
Johannesburg – ‘n Paartjie is in Germiston in hegtenis geneem nadat hulle hul as polisiebeamptes voorgedoen en aan mense werk belowe het in ruil vir omkoopgeld, het die metropolisie Donderdag gesê.
Die misdaadvoorkoming-taakspan in Germiston was besig om die vrou te ondervra, nadat sy Dinsdag in hegtenis geneem is, toe haar man by die kantore ingeloop het, het Wilfred Kgasago, woordvoerder van die Ekurhuleni-metropolisie, gesê.
“Die 44-jarige man het ‘n polisiekaart geflits en op die polisie geskree. Hy het hulle beveel om sy vrou vry te laat en het beweer hy is ‘n lid van die einste misdaadvoorkoming-taakspan wat haar in hegtenis geneem het. Sy vrou het ook op die beamptes gevloek voordat sy een van hulle met ‘n oop hand deur die gesig geklap het.”
Volgens Kgasago het die polisie Woensdag die man in hegtenis geneem nadat vasgestel is dat hy eens as ‘n polisiereservis gewerk het en dat hy homself bloot as ‘n polisiebeampte voorgedoen het toe hy sy kaart geflits het.
“Die man is ‘n paar jaar gelede afgedank weens diefstal, maar dit wil voorkom of hy nie sy polisiekaart ingehandig het nie.”
Die man sal na verwagting op 15 Julie in die Germiston-landdroshof verskyn.
Die 39-jarige vrou het in die menslike hulpbronne-departement van die Ekurhuleni-metropool gewerk.
“Sy het duisende rande van mense ingesamel en beloof om hulle aan te stel wanneer poste geadverteer word. In hierdie stadium kan ons nie meer besonderhede oor die kwessie bekend maak nie,” het Kgasago gesê.
Die vrou is Dinsdag op borgtog van R2 000 vrygelaat.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA