Paartjie beseer ná motor vlakvark tref
2011-11-16 16:23
Bloemfontein – 'n Man en 'n vrou is ernstig beseer nadat hul motor 'n vlakvark getref en teen 'n vragmotor gebots het, het paramedici gesê.
Die ongeluk het omstreeks 20:00 Dinsdag naby Senekal in die Vrystaat plaasgevind.
'n Vlakvark het oor die N5 tussen Senekal en Paul Roux gehardloop, waarna die motor die dier getref het, het Derrick Banks, woordvoerder van ER24, gesê.
Nadat die motor die vlakvark getref het, het die bestuurder glo beheer oor die voertuig verloor en trompop teen 'n aankomende vragmotor gebots.
Die paartjie is na die Senekal-hospitaal geneem en die vragmotorbestuurder het geen beserings opgedoen nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA