Paaie eis 27 lewens in 24 uur
2011-01-15 19:12
Johannesburg – Sewe en twintig mense is die afgelope 24 uur in motorongelukke oorlede, het die ministerie van vervoer Saterdag in ‘n verklaring gesê.
Sibusiso Ndebele, minister van vervoer, het sy medeleie met die families uitgespreek en gesê die regering werk sedert Oktober 2010 “volstoom” deur hul padveiligheidsveldtog en nuwe Nasionale Voortgesette Wetstoepassingsplan (NREP) om die land se paaie te beveilig.
Die minister het ook ‘n beroep gedoen op “alle Suid-Afrikaners om ‘n meer aktiewe rol in 2011 te speel deur deel te neem aan die Verenigde Nasies se Dekade van Optrede teen Padsterftes.”
Volgens die minister is daar “meer as 4,5 miljoen motors en bestuurders tussen 1 Oktober 2010 en 10 Januarie 2011 nagegaan” en is “meer as 2 miljoen boetes vir verskeie verkeersoortredings uitgereik.”
Sowat 7000 bestuurders is in hegtenis geneem vir padoortredings en meer as 26 000 voertuie is van die pad verwyder.
Negentien mense, insluitende ‘n tweejarige seun, is volgens berigte in ‘n busongeluk Saterdagoggend naby Fouriesburg in die Vrystaat oorlede.
In ‘n soortgelyke voorval in die Vrystaat is agt mense Vrydag dood in ‘n ongeluk tussen ‘n minibus-taxi en ‘n vragmotor buite Villiers.
Die minister het motoriste ook gewaarsku teen die padtoestande as gevolg van wydverspreide en swaar reën oor die land.
Volg Nuus24 op Twitter.