Pa wat selfmoord pleeg was 'mal oor sy kind'
2010-08-22 08:59
’n Drie jaar lange stryd om toegang tot sy kind te kry het na bewering die tragedie voorafgegaan waarin ’n seuntjie en sy pa gesterf het.
Mornay Edgar (41) het soms tot R10 000 per maand aan reiskoste tussen Johannesburg en George bestee om sy seuntjie, Lee (3), te besoek.
Pa en seun het Saterdag 31 Julie in bisarre omstandighede gesterf – Lee met ’n enkele wond in die bors, wat glo deur ’n visgeweer toegedien is. Edgar is dood weens vier steekwonde in die hart en maag wat hy homself glo toegedien het.
’n Betroubare bron sê nadoodse foto’s toon dat die visgeweer nie afgevuur is nie, maar dat daar wel bloed naby die handvatsel was.
Edgar is in November verlede jaar van Lee se ma, Debra-Lee Bouwer (40), geskei. Hulle was langer as drie jaar van mekaar vervreem.
Net ’n dag voor hul dood is ’n hofbevel aan Edgar beteken wat sy toegang tot Lee erg ingekort het. Edgar sou Lee onder meer net in Bouwer se teenwoordigheid kon sien.
Op hul sterfdag het Bouwer egter ingestem dat pa en seun alleen in die park gaan stap. Sy het die twee glo om 11:25 begin soek. Hul lyke is om 13:30 digby ’n voetpaadjie aangetref.
Verlede week het die polisie aan Rapport gesê hulle hanteer die saak as ’n moord en selfmoord. Vandeesweek het kapt. Zelda Müller, polisiewoordvoerder, gevra dat “mense met inligting na vore kom”.
’n Maatskaplike werker het aan Rapport vertel van Edgar se pogings om sy kind gereeld te sien.
“Daar is kat en muis met hom gespeel,” sê Amanda Beukes van Mosselbaai. Mornay se toegang tot Lee is tot die uiterste gefrustreer. Afsprake wat gereël is, is van oomblik tot oomblik verander. Mornay het nooit geweet waar hy staan nie. Hy’s van sy kind weggehou.”
Volgens haar het Edgar sielkundiges, maatskaplike werkers en gesinsadvokate om hulp genader. In hartroerende briewe skryf hy: “Ek wil nie te veel vra nie; net wat regverdig is.”
Beukes sê Edgar word nou, ná sy dood, “beswadder as ’n gewelddadige pa vir wie Lee bang was. Dis snert. Hy was vasbeslote om ’n goeie pa te wees.”
Beukes vertel sy was sedert die egpaar se vervreemding op Edgar se versoek by die gesin betrokke. “Debra vertel nou ek was nie ‘meelewend’ genoeg nie. Maar sy het my reguit hel toe gestuur.”
In ’n lang e-pos aan Beukes skryf Edgar onder meer: “Ek wil graag dat ’n volledige beoordeling van my gedoen word wat sal bewys ek is ’n liefdevolle pa wat omgee.”
Volgens Beukes is dit “twak” dat Edgar sy kind mishandel het. “Ek het drie jaar lank met hulle gewerk. Daar was niks wat Mornay nie van Lee geweet het nie. Hy was mal oor sy kind.
“Dit maak my siek dat mans dikwels van mishandeling beskuldig word, veral soos nou, ná Mornay se dood. Hoe kan hy homself verdedig?”
Edgar se oudste suster, Helen Mason, het aan Rapport gesê: “Niks kan my stunning broer en sy pragtige sonkind ooit terugbring nie.”
Debra-Lee Bouwer, wat nie met Rapport wou praat nie, het die afgelope week ’n onderhoud aan Huisgenoot toegestaan. Daarin vertel sy dat Lee deur ’n sielkundige ondersoek is wat bevind het “alles is nie pluis nie”.
“Die laaste strooi was toe Lee met stories van die dood by ons aankom. Lee het onherhaalbare vreemde en aanstootlike goed kwytgeraak en gesê sy pa vertel dit vir hom.”
- Rapport