Pa vlug ná 'kaping'
2012-10-18 17:53
Johannesburg – 'n Grootskaalse soektog is aan die gang na 'n man van Durban wat na bewering sy eie kaping vervals het, het die polisie Donderdag gesê.
Kol. Jay Naicker, polisiewoordvoerder, het gesê die 52-jarige Leon van Rensburg het die pad gevat, kort nadat die polisie hom in kennis gestel het dat hy ondervra gaan word.
Naicker het gesê die inligting wat die polisie tydens hul ondersoek ingesamel het, en Van Rensburg se verduideliking van die voorval, stem nie ooreen nie.
Van Rensburg is aangekla van dwarsboming van die gereg.
"Die polisie het hom gister [Woensdag] gekontak en 'n vergadering belê, maar mnr. Van Rensburg het nie by die vergadering opgedaag nie," het Naicker gesê.
Sy vrou het Donderdag aan die polisie gesê hy het gevlug en sy motor is verlate in die middestad gevind.
Van Rensburg het verlede week hooftrekke in die nuus gemaak toe die nuus van sy kaping versprei het.
Hy het Dinsdagoggend om 10:41 ‘n SMS aan sy dogter, Megan (15), gestuur. “Help, gekaap,” het die boodskap gelui.
Megan se selfoon was afgeskakel aangesien sy by die skool was. Sy het eers ure later die boodskap gelees.
Die Van Rensburgs se wit Toyota Tazz is die volgende dag verlate op 'n plaas naby Kokstad gevind.
Rob Gardner, ‘n woordvoerder vir die gesin, sê Van Rensburg (52) het vanuit Underberg ‘n familievriend in Howick gebel om sy gesin te laat weet hy lewe nog.
Dit is nie duidelik waar was hy tussen die tyd van sy beweerde ontvoering en toe hy opgespoor is nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA