Pa vermis, gesin desperaat ná kaping
2012-10-11 12:30
Johannesburg – Die polisie is nog op soek na ‘n man wat in KwaZulu-Natal vermis geraak het nadat sy motor na bewering gekaap is.
Kapt. Thulani Zwane sê ‘n spesiale taakmag is ná die kaping in Hillcrest, buite Durban, saamgestel.
“Ons kan nie enige verdere inligting op die oomblik onthul nie, aangesien die saak nog ondersoek word,” het hy gesê.
The Witness het die vermiste man as Leon van Rensburg geïdentifiseer.
Die koerant berig Van Rensburg (52) het Dinsdagoggend om 10:41 ‘n SMS aan sy dogter, Megan (15), gestuur. “Help, gekaap,” het die boodskap gelui.
Megan se selfoon was afgeskakel aangesien sy by die skool was. Sy het eers ure later die boodskap gelees.
Luidens die koerant se berig is die man se wit Toyota Tazz later in Kokstad opgespoor. Dis omtrent 200 km van waar hy laas gesien is.
Van Rensburg se gesin het aan die koerant gesê hulle is desperaat vir antwoorde.
“Ek wil net weet waar my pa is,” het die vermiste man se seun, Graham (23), gesê.
Forensiese toetse word tans op die motor gedoen.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA