Pa vas vir moord op sy seun
2009-11-16 14:34
Kaapstad – Die pa van ‘n 8-jarige seun wat vroeër in die maand vermis geraak het is in hegtenis geneem in verband met die seun se verdwyning en moord.
Polisie in die Wes-Kaap het Maandag gesê die seun se lyk is Sondag in Phillipi gevind.
“Ons kan bevestig dat die lyk van of Moegamat Yunus Desai wat op 4 November vanjaar vermis geraak het, gevind is. Sy pa is sedertdien in hegtenis geneem in verband met sy moord,” het insp. Etienne Konradie gesê.
Yunus is laas gesien saam met sy pa op die dag wat hy vermis geraak het. Sy lyk is Sondagmiddag in Broksands in Phillipi gevind.
Polisie glo dat hy verwurg is, maar wag vir die uitslae van ‘n nadoodse ondersoek om dit te bevestig.
Die man het Maandag in die hof verskyn en skuld beken op die moord van sy seun.
- Sapa