Pa vas ná hy stiefdogter (14) verkrag
2010-12-14 17:16
Bloemfontein – Die stiefpa van 'n 14-jarige meisie van Meloding naby Virginia is in hegtenis geneem omdat hy die meisie na bewering 'n geruime tyd lank verkrag het.
Die man het glo pornografiese prente aan die meisie gewys, het konst. Martin Xuma Dinsdag gesê.
"Die stiefpa het glo die meisie 'n paar keer verkrag voor sy haar 22-jarige stiefsuster daarvan vertel het. Die stiefsuster het toe die slagoffer se ma daarvan vertel."
Xuma het gesê die ma het glo nie die saak by die polisie aangemeld nie, maar die stiefsuster het na die plaaslike polisiekantoor gegaan en die saak aangemeld.
'n Saak van verkragting is geopen en die man is dieselfde dag in hegtenis geneem.
Xuma het gesê die man het in die Virginia-landdroshof verskyn en bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning.
Die polisie het ook 'n saak teen die ma aanhangig gemaak omdat sy versuim het om 'n seksuele misdaad teen 'n kind aan te meld.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA