Pa vas ná hy glo kind in dak wegsteek
2012-01-17 13:01
Johannesburg – ‘n Man is in hegtenis geneem nadat hy glo sy vyfjarige dogter in Orange Farm, suid van Johannesburg, ontvoer het, het die polisie Dinsdag gesê.
Hy is Maandag gevang terwyl hy die kind in die dak van ‘n huis in Palm Springs, Vereeniging, weggesteek het, het lt. kol. Katlego Mogale gesê.
Sy sê die 35-jarige man was sedert Vrydag vermis nadat hy die meisie uit sy vervreemde vrou se huis geneem het.
“Die pa het die kind geneem en belowe om haar ná ‘n paar ure terug te bring na haar ma, maar hy het nooit nie,” het Mogale gesê.
“Die vrou het ‘n saak van ontvoering aanhangig gemaak nadat haar vervreemde man nie die kind op die tyd wat hulle ooreengekom het teruggebring het nie.”
Hy sal binnekort in die Vereeniging-landdroshof verskyn op ‘n aanklag van ontvoering.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA