Pa dood, seun beseer in motorfietsongeluk
2011-09-11 23:11
Johannesburg – ‘n Man het Sondag gesterf en sy seun is beseer in ‘n motorfietsongeluk op die R57 in Vanderbijlpark, suid van Johannesburg, het paramedici gesê.
Die 18-jarige seun, wat bestuur het met sy pa wat agter hom gesit het, het naby die Stonehaven-brug beheer oor die motorfiets verloor, het Vanessa Jackson, woordvoerder van ER24, gesê.
Hy het met die motorfiets deur bome wat op ‘n wal gestaan het, gery.
Beide pa en seun is van die motorfiets geslinger. Die pa het op die toneel gesterf, het Jackson gesê.
Die seun is na die Sebokeng Provinsiale Hospitaal geneem.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA