Pa-skieter 'nie ’n gevaar'
2009-09-21 15:04
Kaapstad - Die voormalige polisieman Marius van der Westhuizen het geen gevaar vir die samelewing ingehou nie en dit sal ‘n "groot tragedie" wees as hy tronk toe moet gaan.
Dit was die woorde van Kathleen Kabat, vriendin van Van der Westhuizen, wat Maandag in die Kaapse hooggeregshof getuig het.
Die hof is tans besig om 'n vonnis vir Van der Westhuizen te oorweeg nadat hy skuldig bevind is op die moord van sy drie kinders.
Kabat, 'n ma van drie, en haar man Mike het Van der Westhuizen in hul huis ingeneem na die dood van sy kinders.
Hulle het dit glo gedoen omdat hulle Christene is en omdat dit van hulle verwag word.
Die Kabats het ook simpatie met Van der Westhuizen getoon nadat hulle en talle ander hom in die steek gelaat het voor die dood van sy kinders. Sy het gesê hy het duidelik hulp nodig gehad.
Van der Westhuizen se advokaat Milton de la Harpe het Kabat gevra of hy ‘n gevaar vir die sameling inhou en sy het daarop gereageer deur te sê: "Nie in die minste nie. As ons so gedink het sou ons hom nie saam met ons kinders in die huis laat bly het nie.”
"Hy het ‘n besonderse verhouding met ons gestremde seun met wie hy baie geduldig is, seker meer as wat ek is,” het sy gesê.
Sedert die moord plaasgevind het, sit Van der Westhuizen sonder werk.
Hy het egter intussentyd met houtwerk begin en verkoop tafels en banke aan mense in die woonbuurt.
"Ek glo nie hierdie man is ‘n misdadiger nie en ek glo nie hy moet tronk toe gaan nie. Hy het genoeg gely.”
Sy het voorgestel dat die hof simpatie teenoor 'n man moet hê wat sy kinders verloor het.
Van der Westhuizen, ‘n voormalige bevelvoerder by die Claremont-polisiestasie, het sy kinders in 2006 doodgeskiet om sy vrou Charlotte glo te straf.
- Sapa