Pa, seun vas oor dwelms van R5 milj.
2013-01-09 14:01
Johannesburg – ‘n Dwelmbaas en sy seun is in hegtenis geneem toe dwelms met ‘n straatwaarde van sowat R5 miljoen en juwele in hul huise in Durban, KwaZulu-Natal, gevind is.
Kol. Jay Naicker sê die polisie het Dinsdagaand ‘n klopjag op die pa se huis in Shallcross, Chatsworth, uitgevoer nadat hulle ‘n wenk opgevolg het.
Hulle het beslag gelê op heroïen, ecstasy en mandrax, en die 54-jarige man in hegtenis geneem.
Sy seun is Woensdagoggend in dieselfde gebied vasgetrek.
“Die 30-jarige seun is met ‘n ongelisensieerde 9 mm-pistool met 87 patrone, dwelms, goud en diamantjuwele ter waarde van R500 000, en R70 000 kontant, betrap,” het die polisiewoordvoerder gesê.
Die pa en seun sal Woensdag in Chatsworth se landdroshof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter