Pa, seun in huis doodgeskiet
2012-07-20 23:00
Johannesburg – ‘n Pa en ‘n seun is in hul huis in Mafikeng doodgeskiet in ‘n aanval waarin die seun se ma gewond is, het die polisie in die Noordwes gesê.
Clifford Assegaai (45) en sy vrou, Nicolette (42), was saam met hul seun, Remein (19), in hul huis toe hulle Donderdag aangeval is, het brig. Thulani Ngubane gesê.
Die bure het die skote gehoor en die polisie in kennis gestel.
Ngubane sê die polisie het Nicolette, wat in haar linkerbeen geskiet is, gesien toe hulle by die toneel opgedaag het. Sy het nog gelewe.
“Die polisie het na die slaapkamer gegaan, waar hulle die pa en seun dood aangetref het,” het Ngubane gesê.
‘n Buurvrou sê sy het gesien hoe drie mense weggehardloop het. Twee van hulle het vuurwapens by hulle gehad.
Nicolette is na die Bophelong-hospitaal geneem.
Geen verdere inligting is verskaf nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA