Pa red seun voor skietdood
2012-12-10 15:20
Kaapstad – 'n Pa het sy seun onder 'n bed ingedruk sekondes voordat hy koelbloedig deur gewapende aanvallers in die gesin se huis geskiet is, berig iol.
Die 37-jarige Denver George en sy swaer Claude Campher (41) is albei dood nadat hulle probeer het om hul gesinne van die gewapende aanvallers te beskerm.
"Hy het as 'n held gesterf en hy het probeer om hulle te keer om na die slaapkamer te gaan," het George se vrou, Erica, gesê.
Die mans het oor die muur gespring en probeer om George se broer, Lohencine George, wat buite die huis gestaan het, te skiet.
"Een van die mans het in die huis gestorm en die ander man het my buite teen die muur gestoot. Hy het 'n vuurwapen teen my borskas gehou en die sneller getrek, maar die vuurwapen het vasgehaak.
"Hy het weer probeer en die vuurwapen oorgehaal, die magasyn vervang, maar die vuurwapen het weer vasgehaak."
Dieselfde vuurwapen het later "100% reg gewerk" toe die verdagte by sy makker in die huis aangesluit het, en George en Campher doodgeskiet is.
Die voorval het Saterdagoggend in Scottsdene naby Kaapstad plaasgevind.
Die polisie is op soek na die moordenaars, maar niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.
"Ons kan bevestig dat die moorde op twee mans ondersoek word. Die motief is nie bekend nie," het lt.kol. André Traut, polisiewoordvoerder, gesê.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter