Pa pak skool oor sy seun se haarlengte
2010-08-14 07:00
’n Storm dreig tussen die Hoërskool Kempton Park en ’n pa wat daarop aandring dat sy seun sy hare in ’n styl van sy keuse moet kan dra.
Hans Fouché beroep hom op die Grondwet en voer aan sy seun, Frans, ’n gr. 10-leerling, het die reg op vryheid van uitdrukking.
Hy meen die huidige skoolreëls, spesifiek oor seuns se hare, voldoen nie aan bepalings in die Grondwet nie.
Hy beroep hom onder meer op onlangse hofuitsprake, riglyne in die Staatskoerant en navorsing wat in die verband gedoen is.
Fouché voer aan die skool se haarstylreëls is nie sedert die apartheidstyd in ooreenstemming met die nuwe Grondwet aangepas nie.
Hy meen al stem die hele ouerkorps nie met hom saam nie, kan die skool nie voortgaan om ’n reël af te dwing wat strydig met die Grondwet is nie.
Fouché meen ouers, nie ’n skool nie, moet kan besluit of ’n kind lang of kort hare mag hê.
“’n Kind kan tuis sy skoolklere uittrek en aantrek wat hy wil, maar wat doen hy met sy hare?”
Fouché meen as daar reëls is wat meisies toelaat om lang hare te hê solank dit netjies is, kan hy nie verstaan hoekom dit nie seuns kan geld nie.
“Dit kom mos neer op geslagsdiskriminasie. Algemene voorkomsreëls moet seuns én meisies geld.”
Fouché het gesê sy seun het gister se “haarinspeksie” by die skool gedruip en hy gaan die saak nie daar laat nie.
Om te sorg dat hy aanbly, het hy wel sy kuif ’n bietjie gesny.
Volgens Fouché is hy nie langer lus om met die skool in ’n stryery betrokke te wees nie en wag hy op die uitslag van ’n vergadering tussen die skool en die departement.
Hy hoop die departement sal die skool aansê om sy gedragskode te verander.
“As daar nie uitsluitsel kom nie, sal die saak in die hof eindig.”
Roelf Burger, hoof van die skool, het gesê die beheerliggaam is verantwoordelik vir die opstel van die skool se gedragskode.
Hy het gesê die skool is sedert 2007 herhaaldelik met Fouché in gesprek toe hy ook oor sy vorige seun se haarstyl gekla het.
Fouché het vroeër in die ouers se meerderheidstem berus.
Hy het gesê dit is jammer dat Fouché die saak op dié manier dryf.
“Ek het gisteroggend vir hom gesê hy maak sy kind nou ’n speelbal en dit is nie die moeite werd nie.
“Ons kan nie toelaat dat een ouer op 1 600 ander leerlinge se regte inbreuk maak nie.”
Volgens Burger is Fouché ook al aangeraai om ’n ander skool vir sy seun te vind as hy nie met die reëls tevrede is nie.
“Hy het egter gesê hy is beïndruk deur die dissipline en die skool se uitslae en wil hom nie skuif nie.”
Charles Phahlane, onderwyswoordvoerder in Gauteng, het gesê die departement is besig om ’n mening van sy regspan te kry.
Wat die reg sê
Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê regspraak maak daarvoor voorsiening dat ouers op godsdienstige en kulturele gronde vrystelling van die skool se gedragskode mag vra.
’n Voorbeeld is die neusring-saak in KwaZulu-Natal.
Die vrystelling mag met die gebruik van bepaalde juwele of kleredrag verband hou.
Hy wys egter daarop dat grondwetlike regte nie absoluut is nie en beperk kan word deur byvoorbeeld die gedragskode van ’n skool wat deur ’n bevoegde gesag aanvaar is.
- Beeld