Pa neem porno-foto’s van sy dogter
2009-10-14 00:21
Eric Mashaba
Nelspruit – ‘n Man het in die hof verskyn op aanklagte daarvan dat hy sy 11-jarige dogter gebruik het in pornografiese foto’s.
Die 32 jarige man van Witrivier in Mpumalanga, het in Nelspruit se streekshof verskyn op aanklagte van die besit en vervaardiging van kinderpornografie.
Die verdagte is op 30 Oktober verlede jaar in hegtenis geneem nadat sy vrou hom by die Witrivier polisie gaan aanmeld het.
Dit het gekom nadat die kind aan haar ma vertel het wat aan die gebeur was.
Tydens die inhegtenisname het die polisie op DVD’s ‘n rekenaar en ‘n drukker waarop kaal fotos van die meisie gevind is, beslaggelê.
“Op 27 September verlede jaar, toe ek van die werk af by die huis gekom het, het my dogter my vertel dat haar pa haar gevra het om haar klere uit te trek sodat hy foto’s van haar kan neem,” het die meisie se ma getuig.
Sy sê haar man het ‘n drinkprobleem gehad en hulle het in 2005 geskei maar ses maande later weer bymekaar gekom.
Volgens haar het haar man baie kaal foto’s van sy dogter geneem en ook haar private dele afgeneem.
Sowat 27 foto’s is in die hof as bewysstukke gebruik.
“Hy het vir haar gesê hy maak ‘n foto-album en sy het hom geglo maar ek glo dit was vir pornografiese doeleindes,” het die ma getuig.
Die saak sal op 22 Oktober voortduur.
- African Eye