Pa los notas voor hy vrou skiet
2011-09-09 10:11
Durban – 'n Man wat die ma van sy tweejarige dogter doodgeskiet voor hy homself om die lewe gebring het, het 'n handgeskrewe nota aan joernaliste gestuur kort voor die tragedie ontvou het.
Dié nota wat aan The Citizen en The Star gestuur is, se opskrif was: "Isabella is vry" en is deur Clint Walley geskryf.
Walley is vroeër vanjaar in hegtenis geneem nadat hy sy dogtertjie ontvoer het.
Die nota lees verder: "Geen meer Owen Kemp... Vlieg my engeltjie, jy is vry," en eindig met die woorde "Amo sempro," Italiaans vir "Lief jou altyd".
Kemp is die kêrel van sy eksvrou, Catherine Krog (28).
Krog en Walley se lyke is Donderdagoggend met skietwonde in haar huis in Mount Edgecombe buite Durban gevind.
Kapt. Thulani Zwane, polisiewoordvoerder, het gesê Isabella is ongedeerd op die misdaadtoneel gevind.
Krog se neef was ook in die huis, maar is nie beseer nie. 'n 9 mm-pistool, wat in die moord en selfmoord gebruik is, is op die toneel gevind.
Walley se nota, wat met 'n selfoonkamera afgeneem is, is om 04:38 Donderdagoggend na 'n joernalis by The Citizen gestuur. Die joernalis het die boodskap aan 'n vriend van krog gestuur en lt.kol. Jason McGray, wat Krog vroeër in hegtenis geneem het, gebel.
Krog is vroeër op aanklag van dwelmhandel in hegtenis geneem en het skuldig gepleit.
Die joernalis het na Walley se huis gery, maar niemand was tuis nie. Krog se vriend kon haar ook nie in die hande kry nie, want haar selfoon was af.
Walley het kort ná 06:00 by Krog se huis ingegaan en haar vermoedelik voor hul dogter geskiet voor hy homself doodgeskiet het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA