Pa kan kinders nie red toe plakkershut afbrand
2011-06-11 21:09
Port Elizabeth - Ses mense, insluitend drie kinders, is dood toe 'n plakkershut in Bethelsdorp in Port Elizabeth afgebrand het, het die polisie gesê.
Die brand het Vrydag omstreeks 22:30 begin en is glo veroorsaak deur 'n lamp wat omgeval het, het kapt. Sandra Janse van Rensburg gesê.
Drie volwassenes tussen die ouderdom van 26 en 30, en drie kinders van onderskeidelik drie, vier en nege het in die brand omgekom.
"'n Pa van een van die drie kinders het by die huis aangekom en gesien die hut is aan die brand. Hy is beseer terwyl hy probeer het om hulle te red," het Janse van Rensburg gesê.
Hy is na die Livingstone-hospitaal geneem vir behandeling.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA