Pa gestraf oor lyfstraf vir dogter
2011-03-01 07:03
Kroonstad - ’n Enkelouer wat sy “ouerlike plig” uitgevoer het deur sy ongehoorsame dogtertjie een hou met ’n lyfband op haar boude te slaan, is Maandag in die streekhof hier op ’n aanklag van aanranding ’n boete van R1 000 of 12 maande tronkstraf opgelê.
Streekhoflanddros Hendrik Jonker het dié straf voorwaardelik vir drie jaar opgeskort. Hy het met vonnisoplegging gesê in Suid-Afrika kom tugtiging op aanranding neer.
Dié Viljoenskroonse pa (26) het sy dogtertjie (6) herhaaldelik versoek om nie in die straat voor hul huis te speel nie.
Sy het nie geluister nie. Hy het haar later toe met die lyfband een keer op haar boude geslaan.
Die pa het in sy pleitverduideliking wat Maandag in die hof gelees is, erken hy het sy dogter met die lyfband geslaan.
Duraan Fourie, vir die pa, sê dit is “tragies” dat ’n ouer voor die hof moet staan, omdat hy/sy ouerlike plig uitvoer en in dié geval dissipline toegepas het.
Boonop wou dié pa sy dogter beskerm het teen ’n gevaar soos om deur ’n motor raakgery te word.
Fourie het in sy betoog ter versagting gesê die “sake wat daagliks voor die hof verskyn”, kan juis toegeskryf word aan ’n gebrek aan dissipline – ongedissiplineerde jeugdiges bots daagliks met die gereg.
Streeklanddros Jonker het gesê dit is “ongelukkig” so dat vroue gemolesteer en kinders mishandel word.
Daarom is strawwe ingestel om minderjariges teen aanranding te beskerm.
Die landdros sê dit is nie vir die hof om ’n mening uit te spreek oor die voor- of nadele van lyfstraf nie.
Die hof moet uitspraak lewer ingevolge landswette waar liggaamlike tugtiging op aanranding neerkom.
Streeklanddros Jonker het hom nietemin uitgespreek oor die gebrek aan tugtiging wat tot dwelm- en drankmisbruik, asook ander oortredings, lei.
“Die meeste oortreders wat in die hof verskyn, is jeugdiges of net ná die jeugdige ouderdom.”
Hy het gesê om dié pa gevangenisstraf op te lê sal “onsinnig” wees.
“Ons weet u het haar nie aangerand soos ons aanranding ken nie,” het hy aan die beskuldigde gesê.
Die kind het ’n “week voor of ná” die slaanhou met warm water gebrand.
Iemand het die brandwonde, asook die slaanmerke, gesien en afleidings gemaak dat die pa die kind mishandel het.
’n Klag van kindermishandeling is later laat vaar.
Streeklanddros Jonker het gesê dié voorval is eintlik net ’n “gewone aanranding” wat nie in die streekhof hoort nie.
Rakesh Chitradow het aangekla.
- Volksblad