Pa eis oor UP-hek op seun val
2011-11-29 08:00
Pretoria – ’n Pa meen sy seun se vermoë om ’n inkomste te verdien en sy toekomstige inkomste is met sowat R3 miljoen ingekort nadat ’n valhek (boom) glo by die Universiteit van Pretoria (UP) op die seun geval en hy ’n deel van sy duim verloor het.
Die seun is glo ernstig benadeel in sy vooruitsigte om professionele rugby te speel.
Johannes George Hamman (48), ’n motorwerktuigkundige van Randfontein, wes van Johannesburg, eis R5,07 miljoen skade van die UP in die hooggeregshof in Pretoria.
Die saak is gister onbepaald in dié hof uitgestel.
Hamman se seun, wat einde Desember 18 word, is glo op 25 April 2006 by die L.C. de Villiers-stadion in Pretoria beseer. Hy was toe 12 en ’n leerling aan ’n laerskool in Randfontein.
Luidens Hamman se hofstukke was sy seun by ’n rugbytoernooi in die stadion waarvan die UP, wat die stadion besit, gasheer was.
Volgens Hamman is sy kind omstreeks 14:00 deur ’n “vallende valhek” op die stadion se perseel beseer.
Die valhek het glo geen meganisme gehad om dit te beveilig wanneer dit orent was nie.
“Die dag ná die besering is ’n sluitmeganisme geïnstalleer om die struktuur te beveilig,” word in Hamman se hofstukke beweer. “Dit was redelikerwys voorsienbaar dat die onbeveiligde valhek sou val en iemand beseer.”
Weens die besering is ’n groot deel van die seun se regterduim onder narkose geamputeer en moes ’n tweede operasie aan sy hand gedoen word, word beweer.
Volgens Hamman is sy seun regs-dominant. Hy kan nie met sy regterhand vasklou of plat voorwerpe optel nie en is ernstig benadeel in sy toekomstige vooruitsigte om professioneel rugby te speel, veral om die bal te vang.
“Voor die besering het die kind rugby gespeel op ’n vlak van vaardigheid wat noemenswaardige vooruitsigte getoon het van ’n professionele rugbyloopbaan,” lui sy hofstukke.
Die UP ontken die voorval en sê as die hof bevind daar was so ’n voorval, sal hy aanvoer die kind het met die valhek se paal gepeuter en die hek het geval.
Hamman ontken daarop dat die seun nalatig opgetree het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld