Pa eis R2 m. ná seun by skool seerkry
2011-11-09 07:04
Pretoria – ’n Pa eis bykans R2 miljoen van die Gautengse LUR vir onderwys en ’n beslote korporasie (BK) omdat sy seun glo op ’n pretdag by ’n Pretoriase skool van ’n meganiese bul geval en seergekry het.
Die pa het nou sy eis teen die Brooklyn Primary School (die eerste van die drie verweerders) teruggetrek.
Luidens ’n bevel Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria sal die LUR aanspreeklikheid aanvaar indien die hof bevind die skool se werknemers was nalatig.
Die aanhoor van die saak is Dinsdag onbepaald uitgestel.
Die eiser (49) van Faerie Glen in Pretoria sê in sy hofstukke sy seun (wat volgende maand 18?jaar oud word) is op Vrydag 22 September 2006 ernstig beseer op die skoolterrein in Murraystraat, Brooklyn.
Volgens die pa het die skool ’n meganiese bul by Rainbow Inflatables BK gehuur.
Volgens die pa moes die kinders nie aan onnodige, verhoogde of vermydelike risiko’s blootgestel gewees het nie.
Sy seun se linkervoet, -enkel en -onderbeen is beseer toe hy op die bul gery en afgeval het.
Die pa beweer daar was nie genoeg of enige toesig by die bul nie.
Die seun is hospitaal toe, moes operasies ondergaan en was sowat ses maande aan sy bed gekluister.
Hy het ook rekonstruktiewe chirurgie en terapie ondergaan om sy been te rehabiliteer.
Rainbow Inflatables ontken hy het ’n plig teenoor die eiser gehad. Hy het die bul aan die skool verhuur ingevolge ’n skriftelike ooreenkoms ingevolge waarvan die skool volle verantwoordelikheid neem vir die toesig oor die kinders.
Dit was die skool se verantwoordelikheid om waarskuwingstekens op te rig om die gebruikers te waarsku hulle gebruik die toerusting op hul eie risiko. Daar is ’n kennisgewing van vrywaring prominent op die bul, wat hom (Rainbow) van enige verlies of besering vrywaar, sê hy.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld