Outa nie verbaas oor Sanral-baas se bedanking
2012-05-08 13:04
Johannesburg – Die Opposition to Urban Tolling Alliance (Outa) sê hy is nie verras dat Nazir Alli, hoofbeampte van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral), bedank het nie.
Wayne Duvenage, woordvoerder vir Outa, sê die bondgenootskap verwelkom Alli se bedanking, het die SABC berig.
“Outa het pas van Alli se bedanking kennis geneem... Ek dink huidige omstandighede en die hele situasie met die e-tolstelsel het nie dinge vir hom maklik gemaak nie,” het Duvenage gesê.
“’n Mens wonder wat die redes vir sy bedanking was, so ek dink nie ons was té verras nie, maar ons wens Alli alle sukses toe...”
Alli se bedanking kom ‘n week nadat ‘n regter die planne met die omstrede e-tolstelsel tydelik in die wiele gery het.
Regter Bill Prinsloo het op 28 April in die hooggeregshof in Pretoria Outa se aansoek om ’n dringende interdik teen die e-tolstelsel se implementering, toegestaan, het Sapa destyds berig.
Volg Nuus24 op Twitter