Outa mag teen uitspraak appelleer
2013-01-25 12:47
Johannesburg – Die Bondgenootskap Teen Stedelike Tol (Outa) se aansoek om verlof tot appèl teen die uitspraak van die e-tolstelsel is Vrydag in die Pretoriase hooggeregshof toegestaan, berig Eyewitness News.
Die hof het vroeër gehoor dat regter Louis Vorster 'n gedeelte van die Sanral-wet oor openbare konsultasie verkeerd geïnterpreteer het om tot die slotsom te kom dat die e-tolstelsel kan voortgaan.
Mike Maritz, vir die Bondgenootskap Teen Stedelike Tol (Outa), het voor Vorster aangevoer dat hy gefouteer het in sy interpretasie van artikel 27 (4) van die Sanral-wet.
Hy het gesê Vorster het nie die argument teen 'n gebrek aan "prosedurele billikheid" in ag geneem op die manier waarop Sanral die publiek oor die e-tolstelsel in kennis gestel het nie.
"Daardie definisie van wat onder prosedurele billikheid vereis word, is glad nie in die uitspraak genoem nie," het Maritz gesê.
"Dit is grotendeels die publiek wat met sowat R70 miljard geraak gaan word, maar onder U Edele se interpretasie dat hulle geen reg het nie... hulle het geen sê nie, hulle moet net betaal.
Vorster het in Desember beslis dat die e-tolstelsel kan voortgaan omdat die Gautengse hoofweg-verbeteringsprojek (GFIP) wettiglik ingestel is. Hy het Outa se aansoek met koste van die hand gewys.
Maritz het aangevoer dat die gebrek aan regverdigheid neerkom op 'n weerspreking van aspekte van die grondwet.
Vorster het in sy uitspraak gesê slegs die fisieke aspekte van die projek was oop vir openbare deelname, en nie die koste nie.
Maritz het gesê hy kan aflei van die uitspraak dat Sanral die paaie van goud kon gemaak het en R50 000 per persoon deur die e-tolstelsel gevra het, sonder om hulle daarvan te sê.
Hy het verder aangevoer dat Vorster op 'n minderheidsbeslissing van die konstitusionele hof oor 'n dringende interdik wat die proses gestaak het, staatgemaak het, wat nie korrek was nie.
"Die beslissing het slegs gehandel oor die onredelikheid van die e-tolprojek," het Maritz gesê.
"Ek het nie ander gronde vir hersiening behartig nie."
Die konstitusionele hof het in September 'n tydelike bevel, wat die implementering van die e-tolstelsel gestaak het, omgekeer.
Die hof het bevind dat die Pretoriase hooggeregshof nie die skeiding van magte in sy beslissing in ag geneem het nie.
David Unterhalter, vir Sanral, het Vrydag ten gunste van Vorster se uitspraak geargumenteer en gesê daar is geen gronde vir die appèl nie.
– Volg Nuus24 op Twitter